Auteur van de maand

Vorige auteurs van de maand

Chris Barnard

Ek is na die beste van my wete op Mataffin in die distrik Nelspruit gebore op 15 Julie 1939. Ek weet dis lank gelede maar dit bly nog altyd vir my ter sake. My pa was 'n sitrusboer en my ma 'n gefrustreerde huisvrou en toegewyde tuinier. Ek het dus die behoefte om goeters te plant en te sien groei by albei my ouers gekry. Omdat 'n mens op agtien alwetend is het ek besluit ek wil 'n groot skrywer word. Dit was 'n geweldige flater en die begin van 'n eindelose avontuur. Al my aanlegtoetse op skool en universiteit het vertel ek is nie taalkundig aangelê nie, toe gaan neem ek Afrikaans, Engels en Frans plus 'n paar ander vakke by die Universiteit van Pretoria. Teen my derdejaar het ek reeds heelwat vakke gesleep waaronder al my taalvakke behalwe Afrikaans. Maar ek is in my dwaling gesterk deur die feit dat ek toe reeds redakteur was van die joolblad, die literere jaarblad, die eerstejaarsgidsblad, die hierdie blad en die daardie blad. Toe besluit ek na my B.A. ek word joernalis. Dit was my tweede flater en die begin van twintig jaar se kosbare ondervinding. Ondervinding van hoe die lewe lyk en hoe 'n mens nie moet skryf nie. Ek het gewerk by sedertdien afgestorwe koerante en tydskrifte soos "Die Vaderland","Dagbreek","Sondagnuus","Die Brandwag" en die glo nog bestaande "Huisgenoot" . Ek was 'n tyd lank ook uitgewer. Sedert 1978 is ek in die filmbedryf. Miskien sou die verledetyd meer gepas wees, want iemand mag dalk vra welke filmbedryf. Ek is in 1962 getroud toe ander ouens van my jare elke naweek by 'n ander dam gaan visvang het. Die huwelik het drie seuns voortgebring waarop ek baie trots is: Johan, Stephan en Tian. In 1978 is ek weer getroud toe ander ouens van my jare naweke met hulle wedvlugduiwe gespeel het. My huwelik met Katinka Heyns het een seun voortgebring waarop ek net so trots is: Simon. En dit het 'n nuwe loopbaan meegebring: as draaiboekskrywer en filmvervaardiger. Dit is vir enige draaiboekskrywer op aarde 'n merkwaardige voorreg om elke aand saam met sy regisseur te kan bad. Ons woon langs die Hartbeespoortdam en ek boer sedert 1994 deeltyds met lemoene en makadamianeute op Thulani, 'n plaas wat ek vir 'n appel en 'n ei bekom het sewe kilometer van my geboorteplek af. Om te plant en te sien groei bly nog steeds vir my die eerste prys. Publikasies sluit onder meer die volgende in:  

Bekende onrus (1961)

Die houtbeeld (1961)

Boela van die blouwater (1962)

Man in die middel (1963)

Dwaal (1964)

Pa, maak vir my 'n vlieër, Pa (1964)

Die swanesang van Majoor Sommer (1965)

Duiwel-in-die-bos (1968) 'n Stasie in die niet (1970)

Mahala (1971)

Die rebellie van Lafras Verwey (1971)

Chriskras (1972)

Danda (1974)

Op die pad na Acapulco (1975)

Iemand om voor nag te sê (1975)

Chriskras: 'n tweede keur (1976)

'n Man met vakansie (1977)

Taraboemdery (1977)

Danda op Oudeur (1977)

Piet-my-vrou & Nagspel (1982)

So onder deur die maan (1985)

Voetpad na Vergelegen (1987)

Moerland (1992)

Paljas & Die storie van Klara Viljee (1998)

Boendoe (1999)

 

 

Lees hier een uittreksel uit Boendoe

Tafelberg 1999

Hardeband 216 blz.

750 BEF/42 NLG

 

Agterna gesien was daardie paar dae nà die eerste reën die enigste tyd waarin ek en Julia 'n normale liefdesverhouding gehad het. Ons het elke aand saam met Vukile en suster Roma of suster Erdmann of Gwaja geëet en dan deur die stuiwende nagreën na haar kaia toe gestap en op haar uitgesakte enkelbedjie gelê en, omgewe van die geur van boegoe en wierook, geluister na die gemurmel van water in die geute; ons het oor allerlei dinge gepraat waarvoor ons voorheen nooit kans gesien of tyd gehad het nie. En in mekaar se arms, met die bietjie kerslig om ons en die donker reën buite, het ons aand vir aand mekaar se lywe begin verken asof ons dit die heel eerste keer doen. Ek het keer op keer verstrik geraak in haar ongelooflike mond en my verwonder oor die kleinkant van haar rug wat soos 'n viool in my handpalm pas. Haar wimpers en haar vingerpunte en haar asem was klein voëltjies se vlerke teen my wang. Ons het liefde gemaak en uiteindelik moeg en versadig en volkome tevrede in die lou en veilige warmte van mekaar se lywe ingesluimer en die dooie slaap van die onskuldiges geslaap.Maar nà die uitval met Vukile het ook dit begin verander. Die eerste aand het ek aanvaar sy is oorstuur en gespanne. Haar argument met Vukile het 'n plek gesoek om homself uit te woed, en 'n plek gevind toe ek, uiteindelik alleen by haar, sê ek dink Vukile se standpunt het meriete." Dit wil sê," voeg ek toe ongelukkig by, "as ek reg verstaan wat hy wou sê, want julle het hom nie eintlik kans gegee om sy saak te stel nie." "So jy wil ook sit en eet terwyl hulle van die honger doodgaan." "Dis nie wat ek sê nie. En ek is glad nie seker dis wat Vukile probeer sê het nie. Maar as julle nie ordentlik eet nie, gaan julle oor 'n week nie meer die krag hê om na die res om te sien nie. En wat dan?" Dit het 'n lank uitgerekte, simpel argument geword. Ek weet net ek het later besef ons praat in sirkels en ons is besig om goed vir mekaar te sê wat sekerlik maar kon gebly het. Ek het ook besef deel van die drie vrouens se dwars standpunt is veroorsaak deur hulle hoofsaaklik onuitgesproke frustrasie met Vukile Khumalo. Want Vu kile was al lankal moeg vir die situasie, oorwerk, sat gesukkel. En, anders as hulle, het hy lankal nie meer regtig geglo in wat hy doen nie. Alhoewel dit seker ook 'n onbillike ding is om te sê , want tot op die laaste het ek hom maar weer van vroeg tot laat, soms ure nà middernag, sterwende mense sien sit en masseer om nog vir oulaas 'n bietjie beter bloedsomloop te probeer bewerkstellig.

Julia het gaan slaap en my in die voorkamer gelos. Dit het daardie nag opgehou reën. Die volgende môre was vol son en m ossies wat onder die dakrande begin plek soek om nes te maak. Daar was weer muggies en spinnekoppe op die stoep en miere wat op die kaal werf rondloop en klein rooi miershopies begin bou.

Twee dae later was die rivier vlak genoeg dat ek kon deurry. Wat Vukile gedoen het, weet ek nie, maar in daardie twee dae het Julia-hulle nie geëet nie. Ek ook nie. Maar nie omdat ek op 'n hongerstaking was nie. Ek kon net nie meer eet nie. Daar was te veel siek mense wat die bietjie kos wat hulle kon inkry die wêreld vol opgegooi het. Daar was blykbaar 'n maagaandoening vaardig wat Vukile nie kon verklaar nie. Die kombuis was vuil en die res van die plek het geruik soos 'n perdestal. In die klompie reëndae het die Chopi's daaraan gewoond geraak om binnenshuis te bly. Hulle het die hospitaal vol gesit en gelê . Selfs die kombuis was heeltyd vol mense wat kom kyk of daar iets in die kospotte oorgebly het. Gewoonlik was Vukile die een wat hulle buite toe georder het as hulle lastig word, maar hy het nie meer omgegee nie. Hulle het oral teen die mure water afgeslaan. Niemand het meer gekeer nie. Gwaja was die een wat daardie laaste ruk met 'n dweil en 'n emmer water probeer voor bly het, maar die dag voor ek weg is, is vyf mense dood en hy moes weer 'n graf grawe. Vukile het my verseker dis nie cholera nie. Hy was moeg. Ek kon sien hy het nie meer krag in hom oor nie. 'n Mens het nog af en toe sy hoë kekkellaggie êrens gehoor, maar dit was opvallend dat hy elke keer as hy klaar gelag het sy sakdoek uithaal en die trane uit sy oë vee.

Die oggend van my vertrek het ek net nà dagbreek wakker geword. Julia was nie in haar kamer nie. Toe stap ek af rivier toe om te kyk hoe lyk die watervlak. Dit het heelwat gesak. Ek het my goed bymekaar gemaak en in die bakkie gaan bêre. Julia was in die eerste bietjie sonlig van die kerk af op pad kliniek toe en ek het haar tegemoet gestap."Môre, Julia," sê ek toe ons by mekaar kom. Môre." Sy het dit so sag gesê dat ek haar skaars kon hoor, en haar arms om my middellyf gesit en my styf vasgehou." Ek gaan ry, Julia." Toe kyk sy op na my toe. "Hoekom?" "Die rivier het gesak." Ek kon hoor hoe sy haar asem baie stadig en baie diep intrek en dit baie stadig weer uitblaas."Ek moet gaan kyk hoe gaan dit met Vusi." "Kan ek saam ry tot by die rivier?" "Ja." "Ek wil net seker maak jy kom deur." Sy het voor langs my ingeklim en ons het die vierhonderd meter tot by die rivier in stilte gery. Ek het teen die water stilgehou."Dit lyk vir my nog diep." "'n Halwe meter op die diepste." "Kan ek voor jou uitloop? Net om seker te maak." "Nee, Julia." "Hoekom nie? Ek wil dit graag doen." "Netnou trap jy in 'n gat of iets." Sy het uitgeklim en haar skoene uitgeskop. "Ek kry jou anderkant." "Nee, Julia. As jy val of iets en ek moet stop, kry ek dalk nie weer hierdie ou ding aan die gang nie." Maar sy was reeds in die water in. Ek het gewag tot sy omtrent tien meter in was en toe gevolg. Sy het baie stadig geloop en ek het haar geleidelik ingehaal. Haar rok was voor op 'n bondeltjie bymekaar gevat om dit te probeer droog hou. Hoe dieper die stroom geword het, hoe sterker het dit geloop. Ek kon later sien sy sukkel. Ek het deur my venster na haar geroep. "Julia. Hoor hier." Sy het my nie gehoor nie of sy wou my nie hoor nie. "Klim op die kap van die bakkie tot die water vlakker is!" Ek dink sy kon my nie hoor nie, want die gedruis van die rivier was harder as wat ek verwag het. "Julia, hou vas aan die bakkie." Sy het een keer vlugtig omgekyk asof sy wil seker maak ek is nog daar en toe weer aangestryk. Die water was aan die vlakker word en ek het naby aan haar gehou tot ons anderkant was.Haar rok was tot by haar naeltjie nat. Ek het uitgeklim en na haar toe gegaan."Dankie." "Niks te danke nie." "Nou sal ek jou weer moet terugneem." Sy het net gelag. Ek het haar nader getrek en haar teen my vasgehou."Brand ..." "Ja, toe maar. Ek weet." "Wat?" Ek het glad nie geweet wat om vir haar te sê nie. "Dit gaan nie werk nie, Brand." Daar was ' n oomblik se huiwering. "Nee, dis nie wat ek wou sê nie." "Wat wou jy sê?" Ek het haar stywer vasgehou want dit het vir my gevoel asof sy probeer padgee van my af. "Ek wens ek kan die res van my lewe voor jou uitloop om seker te maak die water is nie vir jou te diep nie. Maar ek kan nie, Brand." "Ek sal voor jou loop, Julia." "Jy kan nie." "Hoekom nie?" "Ek het my lewe lank gewens ek kan iemand hê soos jy. Ek het eenkeer amper gedink dis Ulrich, maar dit was toe nie. Toe dink ek dis Jan Tolmay. Ek weet dis jy. Ek weet die laaste tyd vir seker dis jy." "Ek is bly, Julia." "Maar ek kan dit nie aan jou doen nie."Ek het haar van my af weggestoot om haar gesig te probeer sien. Dis wat ek verwag het sy gaan sê, maar toe sy dit sê, kon ek dit skielik glad nie glo nie."Moenie vir my kyk nie, Brand. Hou my bietjie vas." "Wat kan jy nie aan my doen nie?" "Ek is nie goed vir jou nie. Ek is 'n brouspul. Ek is slegte nuus." "Sê nou ek het jou lief? Sal dit nie dalk 'n verskil maak nie?" "Dit maak dit baie erger." Ek het gedink sy is 'n bietjie oorstuur. Sy was moeg. Sy het te lank te hard gewerk, te min geslaap, te veel gesien. Sy het twee dae nie geëet nie. Haar kop was beslis nie helder nie. "As al hierdie goed verby is, gaan ons dalk oor baie dinge anders dink. Ek kom weer oor 'n paar dae. Dan praat ons." Ek het haar 'n oomblik vasgehou. "Kom, dan loop ek saam met jou tot jy deur die diep kant is." "Nee. Asseblief. Jy kan staan en kyk as jy wil. Maar ek wil alleen loop." "Hoekom?" "Asseblief." Toe soen sy my vlugtig op die mond en gaan die water binne. Ek het staan en kyk hoe sy soek-soek loop, al dieper, al hoe versigtiger, voetjie vir voetjie. Toe sy halflyf is, kyk sy om en waai vir my. Ek het gewag tot sy anderkant is. Ek het gehoop sy gaan weer waai, maar sy het nie. Sy het haar rokpante uitgedroog en haar skoene aangetrek en tussen die bome weggeraak sendingstasie toe. Dit was die laaste keer dat ek haar gesien het. Ek het agterna gehoor twee vraghelikopters van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdienste het twee dae later by Mbabala geland met kosvoorrade. Blykbaar danksy Tito de Gaspri wat toevallig op die regte oomblik vir die regte mens die regte ding gesê het. Hulle het sestig van die Chopi's weggeneem na 'n tydelike weermagnoodhulpkamp by Richardsbaai en die volgende dag die res kom haal. Julia is saam met die tweede vrag weg. Sy het glo probeer om my in die hande te kry, maar my radio was dood. Sy het 'n brief gelos wat Vukile later vir my gegee het. Daar was niks nuuts in die brief nie. Dit was maar dieselfde goed wat sy die dag by die rivier vir my gesê het. Sy het gevoel haar werk is klaar by Mbabala. Sy was op pad nêrens heen nie. Sy sou my laat weet as sy daar aankom. Ek het amper 'n week lank elke aand tot laat, niksvermoedend, die radio oor en oor sit en uitmekaar haal en nagaan en aanmekaar sit voor ek die fout raakgesien en met stukkies koperdraad en hegpleister en hoop en geloof weer aan die werk kon kry. Teen die tyd dat ek weer met Mbabala kon praat, was Julia al 'n paar dae weg. Ek sal die waarheid oneer aandoen as ek probeer voorgee dit was vir my maklik. Daar is sekere goed wat jy net soveel oneer aandoen as jy te veel daaroor probeer praat. Dis amper vyf jaar sedertdien, en ek het nog nie weer van haar gehoor nie. Daar was 'n storie, een keer, dat sy sendingwerk doen in Suriname. Dalk het sy daar waar sy nou is 'n soort vrede gekry wat vir haar voldoende is. Maar ek word nog dikwels in die nag wakker en verbeel my ek hoor haar die deur oopmaak. Ek weet, soos 'n mens soms sekere dinge weet, ek sal nooit weer ophou wag nie. En God weet dis verskriklik om te dink sy voel dalk dieselfde. Wat is die ding, tussen een mens en 'n ander een, wat so duiselingwekkend is dat dit die laaste tree na mekaar toe onmoontlik maak?

Vorige auteurs van de maand

Christoffel Coetzee