Lettie Viljoen - Ingrid Winterbach

Buller se plan

Uitdaging vir die intellek

INGRID WINTERBACH is niemand anders nie as die alombekende Lettie Viljoen wat nou die eerste keer onder haar eie naam skryf. Lesers van haar werke sal vir seker romans soos Klaaglied vir Koos en Karolina Ferreira onthou. Laasgenoemde roman is met die M-Net asook die Ou Mutualprys bekroon. Op die oog af lyk dit nie of daar 'n dramatiese rede is hoekom Ingrid besluit het om nou skielik na al die jare onder haar eie naam te publiseer nie. Daar is ook nie sprake van 'n paradigmaverskuiwing ten opsigte van die inhoudelike of die tematiese aspekte nie. Die werk volg juis die patroon van haar vorige werke. Diegene wat die eerste keer 'n boek van Winterbach/Viljoen lees sonder om eers 'n bietjie navorsing te doen mag uiters gefrustreerd raak met haar hortende skryfstyl meegebring deur 'n oorhoopse gebruik van hakies en aandagstrepe. Haar boeke stel werklik hoŽ eise aan die leser se konsentrasievermoŽ en vra insig in die gebruik van die stamelende diskoers om die tema van onvoltooidheid/belemmering/mislukte planne tuis te bring. Daarby is daar talle herhalende frases wat die leesproses nog meer frustrerend maak. Dit alles dra by dat Buller se plan nes soos haar vorige romans, baie moeilik lees. Neem 'n mens ook in ag dat die verwysingsveld wat sy betrek baie wyd en intellektueel van aard is, is dit duidelik haar teikenleser sal die meer ingeligtes wees. In Buller se plan is daar byvoorbeeld verwysings na die Griekse digters Seferis, Ritsos en Cavafis. Haar deeglike kennis van die skilderkuns spreek uit die hele boek. Sy verwys in die verband byvoorbeeld na Jeroen Bosch en Goya. Die verhaal is deurspek met filosofiese gedagterigtings en teoriŽ wat vra dat die leser iets sal weet van denkers soos Freud en Nietsche. So byvoorbeeld hou die filosoof Nietsche se denkwyse verband met die tema van onvoltooidheid/belemmering. Die karakters is vasgevang in 'n futiele poging om sin te maak uit die sinlose. Die titel van die boek verwys na Sir Redvers Buller, 'n Engelse generaal in die Anglo-Boereoorlog. Binne die raam van die historiese soek 'n aantal rare, volksvreemde nasate van die oorloggeteisterdes hul plekkie in die son in 'n land waar sake soos apartheid nie meer 'n kwessie is nie. Hulle is egter vasgevang in 'n soort lugleegte waar drank en dwelms (tydelike) ontvlugting bied. Die karakters word gevangenes van hulle eie beperkte visie. Daar is verder, nes in van haar vorige werke, iets van Kafka se Metamorphosis te bespeur (Kafka beskryf in sy werk die metamorfose van mens na dier.) Op die buiteblad is 'n tekening van die strokiesprentheld Captain America. Jonger lesers mag dalk onthou dat Captain America 'n metamorfose ondergaan het van 'n maer, swak mannetjie na 'n superman met uitsonderlike liggaamlike vermoŽns. Die walglikheid van die diermens in Kafka se verhaal reflekteer ook in die monsterman in Winterbach/Viljoen se roman Talking Head. Die metamorfose-idee word nog verder uitgebrei deur Fonny ('n kunstenares) wat herhaaldelik geestelike hergeboortes beleef waar teenoorgestelde elemente soos drome, hallusinasies en die werklikheid vermeng word. Die teenstrydighede vind ook neerslag in die ruimtelike. Die idilliese landskapbeskrywing staan in sterk kontras met die oorloggebeure in dieselfde omgewing in die Anglo-Boereoorlog. Binne die ruimtelike gegewe kom die hoofkarakter, Ester Zorgenfliess (soos die ander karakters), in konflik met haar verlede. Die heel laaste sin in die verhaal is beduidend en kom nogal as 'n verrassing. Vir die leser wat op soek is na 'n intellektuele uitdaging en wat nie afgeskrik sal word deur die stamelende skryfstyl nie, maar geduldig sal aanhou lees tot die verhaal jou later soos 'n seestroom vat en saamsleep om 'n kykie te kry in die lewens van rare karakters, is die werk in die kol. Lesers wat reeds in 'n vakansiestemming is en iets soek om langs die see te lÍ en lees moet die boek liefs laat oorstaan vir die nuwe millenium.

Dr. Matilda Smith, senior lektor aan die departement Afrikaans, Universiteit Vista.